Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:40-49 Die Boodskap (DB)

40. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe.

41. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra.

42. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag.

43. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode

44. en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.”

45. Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het.

46. Vandag gaan die Here jou aan my oorgee: ek gaan jou neerslaan en jou kop afkap. Vandag gaan ek die lyke van die soldate van die Filistyne vir die aasvoëls en die jakkalse voer. Dan sal die hele wêreld weet dat Israel ’n God het,

47. en al die mense wat hier bymekaar is, sal weet dat die Here nie swaarde en spiese nodig het om mee te red nie. Die Here besluit wie ’n oorlog wen en Hy het julle klaar aan ons oorgegee.”

48. Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val.

49. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17