Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:37-44 Die Boodskap (DB)

37. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.”Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.”

38. Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan.

39. Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie.“Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit.

40. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe.

41. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra.

42. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag.

43. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode

44. en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17