Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 13:13-23 Die Boodskap (DB)

13. Toe sê Samuel vir Saul: “Dit was dom van jou. Jy het nie gedoen wat die Here jou God vir jou gesê het nie. Die Here was bereid om die koningskap oor Israel vir altyd vir jou familie te gee.

14. Maar nou sal jou koningskap nie langer bestaan nie. Die Here het klaar vir Hom ’n man uitgesoek van wie Hy baie hou en Hy het hóm as leier van sy volk gekies, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie.”

15. Samuel het toe opgestaan en weggeloop. Saul het van Gilgal na Gibea in Benjamin opgegaan. Daar het hy die manskappe getel wat nog by hom was: daar was omtrent 600 van hulle oor.

16. Saul en sy seun Jonatan en die manskappe het in Gibea in Benjamin gebly. Die Filistyne se kamp was nog in Mikmas.

17. Daar het drie afdelings uit die kamp van die Filistyne gegaan om die gewone Israeliete se goed te roof. Een groep was besig om dit te doen na Ofra se kant toe, in die omgewing van Sual;

18. die ander groep was besig om dit na Bet-Horon se kant toe te doen, en die derde groep het na die kop toe gegaan wat na die woestyn se kant toe uitkyk op die Seboïmvallei.

19. In die hele gebied van Israel was daar niemand wat met yster kon werk nie, want die Filistyne het gesê: “Ons laat dit nie toe nie, anders maak die Hebreërs swaarde en spiese.”

20. Die Israeliete moes maar elke keer na die Filistyne toe gaan om hulle ploegskare, pikke, byle of sekels te laat regmaak.

21. Die prys was twee stukkies silwer vir die regmaak van ’n ploegskaar en ’n pik, en een stukkie silwer vir ’n vurk en ’n byl en die ysterpunt van ’n osdrywerstok.

22. Toe die oorlog uitbreek, het nie een van die burgers wat by Saul en Jonatan aangesluit het, ’n swaard of ’n spies gehad nie. Net Saul en sy seun Jonatan het elkeen ’n swaard en ’n spies gehad.

23. Die Filistyne se wagte was in die bergpas van Mikmas.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 13