Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 1:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Hy sê toe vir haar: “Wanneer gaan jy ophou met jou gedrink? Los die drank!”

15. “U maak ’n fout, Meneer,” antwoord Hanna. “Ek het nie wyn of enige sterk drank gedrink nie. Ek is ’n baie ongelukkige vrou en ek het maar net my hart voor die Here uitgepraat.

16. Moet asseblief nie dink dat ek, ’n nederige mens, sommer ’n nikswerd vrou is nie. Dit is omdat ek bekommerd en ontsteld is dat ek so lank gebid het.”

17. Eli sê toe vir haar: “Mag dit met jou goed gaan, en mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.”

18. Nederig het Hanna hom geantwoord: “Dankie dat u vir my goed is.” Sy het na haar mense toe teruggegaan en geëet. Sy het nie meer so ongelukkig gelyk nie.

19. Vroeg die volgende môre het Elkana en sy familie in die tempel voor die Here op hulle knieë gegaan en daarna teruggegaan na hulle huis in Rama.Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink.

20. Binne drie maande het Hanna ’n baba verwag. Toe die seuntjie gebore is, het sy hom Samuel genoem, “want ek het die Here gevra om hom vir my te gee,” het sy gesê.

21. Toe Elkana die volgende jaar met sy familie Silo toe gaan om die jaar se offer vir die Here te bring en om ’n gelofte wat hy afgelê het, na te kom,

22. het Hanna nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wanneer die kind nie meer aan my drink nie, sal ek hom vat en hom vir die Here gaan gee. Dan sal hy vir altyd daar bly.”

23. Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy goeddink, en mag die Here jou help.” Hanna het by die huis gebly en haar kind versorg totdat hy nie meer aan haar gedrink het nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 1