Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 28:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het al die belangrike mans van Israel in Jerusalem bymekaargeroep. Dit het die leiers van die stamme, die weermagoffisiere, die toesighouers oor die koninklike eiendomme en ander belangrike mense ingesluit.

2. Koning Dawid het hulle toegespreek: “My broers, my volk, luister na my! Ek wou baie graag ’n gebou opgerig het vir die verbondsark van die Here wat as ’n rusplek vir die voete kon dien vir ons God. Toe ek amper reg was om te begin bou,

3. het God vir my gesê: ‘Jy moenie ’n huis bou om my Naam te vereer nie, want jy is ’n soldaat wat baie mense doodgemaak het.’

4. Maar tog het die Here, die God van Israel, my uit my hele familie gekies om vir altyd Israel se koning te wees. Hy het die stam van Juda gekies om te regeer en uit die families van Juda het Hy my pa se familie gekies. Tussen al my pa se seuns het Hy my gekies om oor die hele Israel te regeer.

5. Uit die baie seuns wat die Here my gegee het, het Hy my seun Salomo gekies om na my koning te word van sy volk Israel.

6. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo moet my tempel bou, want Ek het hom vir My as seun gekies en ek sal vir hom ’n pa wees.

7. Ek sal sy koningskap vir altyd laat duur as hy gehoorsaam bly aan my wette en voorskrifte, soos wat hy tans doen.’

8. “Daarom beveel ek julle nou hier waar die hele Israel, die Here se gemeente, teenwoordig is en waar die Here self ons getuie is: maak seker dat julle al die wette van die Here julle God uitvoer, sodat julle hierdie goeie land kan behou en dit as ’n ewige erfenis vir julle kinders kan nalaat.

9. Salomo, my seun, leer die God van jou voorouers goed ken. Vereer en dien Hom met jou hele lewe en met ’n gewillige gemoed, want die Here weet wat in ’n mens se gedagtes aangaan en Hy verstaan jou planne. As jy Hom soek, sal Hy toelaat dat jy Hom vind, maar as jy van Hom af wegdraai, sal Hy jou vir altyd verwerp.

10. Luister nou mooi: die Here het jou gekies om die tempel as heiligdom vir Hom te bou. Spring dadelik aan die werk!”

11. Dawid het vir Salomo ’n bouplan gegee van die pilaargang met al die geboue wat daarmee saamgaan: die voorraadkamers, solderkamers, binnekamers en binneste heiligdom waar die ark se deksel sou kom.

12. Dit was ’n grondplan van alles wat hy vir die tempel beplan het: van die pilaargange van die tempel, die stoorkamers vir skatte en buit wat aan die Here gewy mag word,

13. tot by die plekke vir die priesters en Leviete wat in die tempel moes werk en vir al die gereedskap wat nodig kon wees vir hulle diens.

14. Dawid het ook presies vir Salomo gesê hoeveel goud en silwer hy nodig sou hê vir al die verskillende soorte gereedskap.

15. Hy het ook vir hom gesê presies hoeveel goud nodig sou wees vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelaars met hulle lampe.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 28