Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 17:13-25 Die Boodskap (DB)

13. Ek sal sy Pa wees en hy sal my seun wees. Ek sal nie my ondersteuning aan hom onttrek, soos Ek met jou voorganger gedoen het nie.

14. Ek sal hom vir altyd laat regeer en mense uit sy nageslag sal altyd koning wees.”

15. Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en alles wat die Here vir hom gesê het, aan Dawid oorvertel.

16. Dawid het in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek en my familie, o Here God, dat U my so ver gebring het?

17. O God, nou praat U ook nog van ’n koningshuis wat nooit sal eindig nie wat U vir my sal gee! U praat asof ek iemand groots is, o Here God.

18. Wat kan ek nou vir U sê nadat U my, wat u dienaar is, so hoog vereer het? U ken my baie goed.

19. Here, omdat U my liefhet en omdat U dit so wil hê, het U al hierdie groot dinge gedoen en dit bekendgemaak.

20. “O Here, daar is niemand soos U nie. Alles wat ons gehoor het, bevestig dit: daar is geen God behalwe U nie!

21. Watter ander volk op aarde is soos u volk, Israel? Waar het ’n god al ooit soveel vir ’n volk gedoen deur hulle uit slawerny te bevry en hulle sy eiendom te maak? U het groot en skrikwekkende dinge vir ons gedoen en so deur die hele wêreld bekend geword. U het hulle uit Egipte laat trek en ander volke voor hulle uit verdryf.

22. U het Israel gekies om vir altyd u volk te wees en U, o Here, het hulle God geword.

23. “Laat alles wat U aan my en my nageslag belowe het, nou waar word. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd sal hou.

24. As dit waar word, sal die hele wêreld U vir altyd vereer en sê: ‘Israel se God is die Here, die Groot Bevelvoerder.’ Mag die koningshuis van Dawid, u kneg, bly bestaan.

25. “My God, ek het die vrymoedigheid om so te bid, omdat U aan my geopenbaar het dat U vir my ’n huis gaan bou, ’n koningshuis wat vir altyd sal aanhou!

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 17