Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:10-21 Die Boodskap (DB)

10. Toe die priesters uit die heiligdom gekom het, het ’n helder, wit wolk die huis van die Here gevul. Almal het die teenwoordigheid van die Here aangevoel.

11. Dit was so oorweldigend dat die priesters nie eens hulle werk kon doen nie.

12. Op daardie oomblik is Salomo so deur die Here se nabyheid aangegryp dat hy gesê het: “Here, U is by ons en tog is U ook ver. U is teenwoordig en tog woon U in die donkerte.

13. Here, hierdie wonderlike tempel het ek vir U gebou. Dit moet vir altyd u woonplek wees.”

14. Terwyl die mense nog in verwondering gestaan het, het Salomo na hulle toe gedraai en vir hulle gebid.

15. Hy het gesê: “Ons wil die Here, die God van Israel, loof, want Hy het sy belofte aan Dawid gehou.

16. Sedert die uittog uit Egipte het Hy nie vir Hom ’n stad gekies nie; ’n stad waarin die tempel gebou kon word en Hy aanbid kon word. Toe het Hy Dawid as koning aangestel.

17. My pa, Dawid, wou graag vir die Here ’n plek bou waar Hy aanbid kon word.

18. Die Here het hom egter gekeer om dit te doen.

19. Dawid se bedoeling was opreg en vir die Here was dit mooi, maar Hy het gesê dat Dawid se seun vir Hom ’n tempel sou bou.

20. En hoe getrou is die Here nie! Ek het in my pa se plek koning geword en ek kon die tempel vir die Here bou. So het die Here sy belofte nagekom.

21. Ek het ook vir die verbondsark ’n plek in die tempel gemaak. En in die ark is daar nog steeds die kliptafels wat die Here by Sinai gegee het toe Hy met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit het. Dit was nadat Hy hulle uit Egipte weggelei het.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8