Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:19-31 Die Boodskap (DB)

19. Dit is aan die binnekant met sederhout uitgevoer. Op die houtpanele is daar kalbasse en blomknoppe uitgesny. Alles was so netjies met sederhout uitgevoer dat ’n mens nie die klip kon sien nie.

20. Hierdie binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Voor die binneste heiligdom was daar ’n altaar wat Salomo met suiwer goud oorgetrek en met sederhout versier het.

21. Salomo het ook die binneste heiligdom met suiwer goud bedek. Voor die ingang na dié deel is daar ’n ketting van suiwer goud gespan.

22. Nie net die binneste heiligdom nie, maar die hele tempel is met goud afgewerk. Ook die altaar is met goud oorgetrek.

23. Salomo het twee gerubs van olyfhout laat maak en dit in die binneste heiligdom gesit. Elke gerub was vyf meter hoog.

24. Elke gerub se vlerke was twee en ’n half meter lank, dus vyf meter van die een punt van die vlerk tot die ander punt.

25. Albei gerubs was ewe groot en het ook presies dieselfde gelyk.

26. Albei gerubs was vyf meter hoog.

27. Salomo het die gerubs in die binneste heiligdom gesit. Die punt van die een se vlerk het aan die een muur geraak en die ander gerub se vlerkpunt het weer aan die ander muur geraak. Presies in die middel van die vertrek het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak.

28. Salomo het ook die twee gerubs met suiwer goud oorgetrek.

29. Teen die tempel se binnemure het Salomo gerubs, palms en blomknoppe gehang wat in hout uitgekerf is.

30. In sommige vertrekke is die vloer met goud oorgetrek.

31. ’n Dubbeldeur van olyfhout is by die ingang van die Allerheiligste gesit. Die kosyn het die vorm van ’n vyfhoek gehad.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6