Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:45-54 Die Boodskap (DB)

45. Josafat het gesorg dat die verhouding met die koning van Israel goed is.

46. Alles wat Josafat gedoen het, soos sy dapperheid en militêre oorwinnings, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings beskryf.

47. Verder het hy ook nog al die manlike prostitute wat sedert sy pa, Asa, se tyd oorgebly het uit die land weggejaag.

48. In Edom was daar geen koning nie. Daarom het die koning van Juda ’n goewerneur aangestel om oor Edom te regeer.

49. Josafat het ook groot skepe gebou om goud in Ofir te gaan haal. Daar het egter niks van gekom nie, want al die skepe is in Esjon-Geber in ’n storm vernietig.

50. Koning Ahasia van Israel het vir Josafat gesê: “My mense moet eintlik saam met jou mense op die skepe vaar.” Josafat wou egter nie.

51. Josafat is dood en in die grafte vir die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Joram het hom opgevolg.

52. In die sewentiende jaar van koning Josafat van Juda se regering het Ahasia die seun van Agab koning van Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer.

53. Ahasia het net verkeerde dinge gedoen. Hy het gemaak soos sy pa, Agab, sy ma, Isebel, en Jerobeam, wat Israel verskriklike dinge laat doen het.

54. Hy het Baäl gedien en aanbid. Soos sy pa het hy ook die Here met sy afgode verneder.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22