Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:35-45 Die Boodskap (DB)

35. Die geveg was so hewig dat die drywer hom nie kon wegkry nie. Agab moes die hele dag in die wa bly staan en teen die Arameërs veg. Die wa was naderhand vol bloed en teen die aand is hy dood.

36. Die son was al amper onder toe Israel se manne beveel is: “Elkeen moet na sy eie dorp en stad teruggaan. Die oorlog is verby, want die koning is dood.”

37. Agab se liggaam is Samaria toe geneem en hy is daar begrawe.

38. By die fontein van Samaria waar die straatvroue hulle altyd gewas het, het hulle Agab se bebloede wa afgespoel. Die honde het sy bloed daar opgelek. Dit het presies gebeur soos die Here gesê het.

39. Alles wat Agab gedoen het, soos die huis met ivoorinlegwerk en al die stede wat hy gebou het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings beskryf.

40. Na Agab se dood het sy seun Ahasia hom opgevolg.

41. Josafat die seun van Asa het in die vierde jaar van Agab se koningskap die koning van Juda geword.

42. Hy was 35 jaar toe hy koning geword het. Hy het 25 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, ’n dogter van Silgi.

43. Josafat was ook, net soos sy pa, Asa, lief vir die Here en het die regte dinge gedoen.

44. Hy kon egter nie die hoogtes afgeskaf kry waar die mense ander gode gedien het nie. Die volk het lustig voortgegaan om hulle offers op die hoogtes te slag en wierook daar te verbrand.

45. Josafat het gesorg dat die verhouding met die koning van Israel goed is.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22