Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:4-22 Die Boodskap (DB)

4. Agab is toe terug huis toe, maar hy was baie bedruk en ongelukkig omdat Nabot nie sy wingerd wou verkoop nie. Hy het kwaad op die bed gaan lê en heeltyd na die muur lê en kyk. Hy wou ook niks eet nie.

5. Sy vrou Isebel het hom kom vra: “Wat is fout? Hoekom eet jy nie?”

6. “Nabot wil nie sy wingerd aan my verkoop nie,” het Agab gesê. “Ek het aangebied om hom te betaal of ’n ander wingerd vir hom te gee, maar hy wou niks weet nie.”

7. Isebel vra Agab toe: “Wie is die koning hier? Jy of Nabot? Staan op, eet en word vrolik, want ek sal sorg dat jy Nabot se wingerd kry.”

8. Isebel het toe ’n klomp briewe in Agab se naam geskryf en sy seël daarop afgedruk. Sy het dit na al die belangrike mense in Jisreël gestuur.

9. In die briewe het sy gesê: “Roep ’n vasdag uit, laat al die mense bymekaarkom en laat Nabot voor by die belangrike mense sit.

10. Kry twee booswigte wat aan weerskante van Nabot gaan sit. Laat hulle dan voor almal sê dat Nabot God en die koning gevloek het. Vat hom dan tot buite die stad en gooi hom met klippe dood.”

11. Jisreël se leiers het gedoen wat Isebel beveel het.

12. Hulle het ’n vasdag uitgeroep en vir Nabot voor laat sit.

13. Twee booswigte het voor almal getuig dat Nabot God en die koning gevloek het. Toe het hulle Nabot gevat en hom met klippe doodgegooi.

14. Jisreël se leiers het Isebel toe laat weet dat haar bevele uitgevoer is en dat Nabot dood is.

15. Toe Isebel die nuus hoor, is sy na Agab toe. “Nabot is dood,” het sy gesê. “Gaan vat sy wingerd wat hy nie aan jou wou verkoop nie, want dit is nou joune.”

16. Agab was so bly dat hy onmiddellik na Nabot van Jisreël se wingerd gegaan het om dit op sy naam te kry.”

17. Die Here het toe vir Elia, die profeet uit Tisbe, gesê:

18. “Gaan na Agab toe in Samaria. Jy sal hom by Nabot se wingerd kry. Agab, die koning van Israel, het die wingerd vir hom gevat.

19. Sê vir Agab die Here sê: ‘Jy het Nabot vermoor. Nou vat jy ook sy eiendom. Die Here sê dat die honde jou bloed nog op dieselfde plek sal oplek waar hulle Nabot se bloed opgelek het.’”

20. Toe Agab vir Elia sien, sê hy: “Ja, my vyand, het jy my gekry?” “Ja,” het Elia geantwoord. “Jy het jou hele lewe lank net verkeerde dinge gedoen.

21. Daarom gaan die Here groot rampe oor jou bring. Hy gaan jou geheel en al vernietig. Al die mans in jou familie, oud en jonk, sal heeltemal uitgeroei word.

22. Die Here sal met jou maak soos Hy met Jerobeam die seun van Nebat en Baesa die seun van Agija gemaak het. Hy sal jou en jou familie van die aarde af wegvee omdat jy die Here met jou sonde verneder en Israel laat struikel het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21