Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Nabot het in Jisreël gewoon. Hy het ’n baie mooi wingerd gehad.

2. Dit was langs die paleis in Jisreël. Agab het sommer baie van die wingerd gehou. Op ’n dag het Agab na Nabot toe gegaan en vir hom gesê: “Jou wingerd is mooi. Dit is ook amper teenaan my paleis. Verkoop dit asseblief aan my, want ek wil ’n groentetuin daarvan maak. Ek sal jou ’n beter wingerd gee of jou betaal. Sê net hoeveel jy wil hê.”

3. Nabot het hom geantwoord: “Ongelukkig kan ek dit nie verkoop nie, U Majesteit. Dit is ’n stuk grond wat ek geërf het en wat al lank deel van my familie is. Dit sal teen die wil van die Here wees as ek dit verkoop.”

4. Agab is toe terug huis toe, maar hy was baie bedruk en ongelukkig omdat Nabot nie sy wingerd wou verkoop nie. Hy het kwaad op die bed gaan lê en heeltyd na die muur lê en kyk. Hy wou ook niks eet nie.

5. Sy vrou Isebel het hom kom vra: “Wat is fout? Hoekom eet jy nie?”

6. “Nabot wil nie sy wingerd aan my verkoop nie,” het Agab gesê. “Ek het aangebied om hom te betaal of ’n ander wingerd vir hom te gee, maar hy wou niks weet nie.”

7. Isebel vra Agab toe: “Wie is die koning hier? Jy of Nabot? Staan op, eet en word vrolik, want ek sal sorg dat jy Nabot se wingerd kry.”

8. Isebel het toe ’n klomp briewe in Agab se naam geskryf en sy seël daarop afgedruk. Sy het dit na al die belangrike mense in Jisreël gestuur.

9. In die briewe het sy gesê: “Roep ’n vasdag uit, laat al die mense bymekaarkom en laat Nabot voor by die belangrike mense sit.

10. Kry twee booswigte wat aan weerskante van Nabot gaan sit. Laat hulle dan voor almal sê dat Nabot God en die koning gevloek het. Vat hom dan tot buite die stad en gooi hom met klippe dood.”

11. Jisreël se leiers het gedoen wat Isebel beveel het.

12. Hulle het ’n vasdag uitgeroep en vir Nabot voor laat sit.

13. Twee booswigte het voor almal getuig dat Nabot God en die koning gevloek het. Toe het hulle Nabot gevat en hom met klippe doodgegooi.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21