Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:2-17 Die Boodskap (DB)

2. Hy het net drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma, Maäka, was ’n dogter van Abisalom.

3. Hy het dieselfde verkeerde dinge as sy pa, Rehabeam, gedoen. Hy het ook nie die Here so liefgehad soos sy oupagrootjie Dawid nie.

4. Ter wille van Dawid het die Here vir Abia ’n seun gegee wat na hom kon regeer en Jerusalem kon beskerm.

5. Behalwe vir die verkeerde daad teen Urija die Hetiet, het Dawid altyd die regte dinge in die oë van die Here gedoen.

6. Abia en Jerobeam het heeltyd oorlog teen mekaar gemaak.

7. Alles wat Abia gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings geskryf.

8. Abia is dood en in Jerusalem begrawe. Sy seun Asa het hom opgevolg.

9. Asa het in die twintigste jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword.

10. Hy het 41 jaar in Jerusalem regeer. Sy ouma Maäka was ’n dogter van Abisalom.

11. Asa was anders as Abia. Hy het goeie dinge gedoen, net soos sy voorvader Dawid.

12. Hy het alle manlike prostitute uit die land verban en die afgode van sy voorgangers verwoes.

13. Hy het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder ontslaan omdat sy ’n groot en afskuwelike beeld van Asjera, die godin van vrugbaarheid, gemaak het. Asa het die ding afgebreek en in die Kidrondal verbrand.

14. Asa was lief vir die Here, maar hy kon op die ou end nie daarin slaag om al die offerplekke op die hoogtes waar die volk so graag geoffer het te verwoes nie.

15. Hy het al die goed wat sy pa aan die Here se diens gewy het, in die tempel gestoor. Asa het ook al die goue en silwervoorwerpe wat hy self aan die Here gewy het, in die tempel gaan bewaar.

16. Asa en Baesa, koning van Israel, het gedurig teen mekaar oorlog gemaak.

17. Op ’n dag het Baesa Juda binnegeval en Rama versterk sodat niks of niemand Juda kon binnegaan of verlaat nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15