Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:14-29 Die Boodskap (DB)

14. Elke jaar het Salomo ongeveer 23 000 kilogram goud ontvang.

15. Dit is afgesien van die handelaars se belasting, asook die geld wat die Arabiese konings en die twaalf streke van Israel moes betaal.

16. Salomo het 200 groot skilde gemaak en elkeen met sewe kilogram goud laat oortrek.

17. Hy het ook 300 kleiner skilde gemaak en elkeen met amper twee kilogram goud oorgetrek. Salomo het al hierdie skilde aan die mure van die Libanonsbosgebou gehang.

18. Verder het die koning ’n groot troon laat maak. ’n Deel daarvan het hy met ivoor oorgetrek en die res met die allersuiwerste goud.

19. Die troon het ses trappe gehad waarmee ’n mens tot bo kon loop. Die troon se kopstuk was rond en by elke armleuning het daar ’n groot beeld van ’n leeu gestaan.

20. Twaalf beelde van leeus is aan weerskante van die ses trappe geplaas. Nêrens in die wêreld was daar so ’n troon nie.

21. Al koning Salomo se drinkbekers is van goud gemaak en alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van suiwer goud. Geen silwer is ooit gebruik nie, want silwer was in Salomo se dae waardeloos.

22. Salomo het ook ’n uitstekende vloot gehad. Sy skepe het altyd saam met Hiram se vloot na ver plekke geseil. Elke drie jaar het hulle dan met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane teruggekom.

23. Koning Salomo was ryker en slimmer as enige ander koning.

24. Die hele wêreld wou hom kom besoek. Hulle wou na al die wysheid wat die Here vir hom gegee het, kom luister.

25. Elkeen wat gekom het, het vir hom ’n geskenk saamgebring: allerlei goed wat van goud en silwer gemaak is, klere, wapens, speserye, perde en donkies. Dit het jaar na jaar so aangehou.

26. Salomo het ook ’n groot weermag van 1 400 strydwaens en 12 000 ruiters opgebou. ’n Deel van die weermag was in Jerusalem en die res op ander plekke.

27. In Salomo se tyd het silwer in Jerusalem geen waarde gehad nie. Dit was so alledaags soos klippe. En sederhout was so gewoon soos die wildevyebome in die Laeveld.

28. Die koning se manne het vir hom perde uit Egipte en Kewé ingevoer. Hulle het dit in Kewé vir ’n goeie prys gekry en dan Jerusalem toe gebring. Strydwaens is ook uit Egipte ingevoer.

29. Salomo se handelaars het die perde en die strydwaens weer aan die Hetitiese en Aramese konings verkoop. ’n Wa het amper sewe, en ’n perd amper twee kilogram silwer gekos.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10