Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Koning Salomo het die koningin van Skeba alles gegee wat sy begeer en gevra het. Dit is nou behalwe die geskenke wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe met haar hele geselskap daar weg en het na die land van Skeba teruggegaan.

14. Elke jaar het Salomo ongeveer 23 000 kilogram goud ontvang.

15. Dit is afgesien van die handelaars se belasting, asook die geld wat die Arabiese konings en die twaalf streke van Israel moes betaal.

16. Salomo het 200 groot skilde gemaak en elkeen met sewe kilogram goud laat oortrek.

17. Hy het ook 300 kleiner skilde gemaak en elkeen met amper twee kilogram goud oorgetrek. Salomo het al hierdie skilde aan die mure van die Libanonsbosgebou gehang.

18. Verder het die koning ’n groot troon laat maak. ’n Deel daarvan het hy met ivoor oorgetrek en die res met die allersuiwerste goud.

19. Die troon het ses trappe gehad waarmee ’n mens tot bo kon loop. Die troon se kopstuk was rond en by elke armleuning het daar ’n groot beeld van ’n leeu gestaan.

20. Twaalf beelde van leeus is aan weerskante van die ses trappe geplaas. Nêrens in die wêreld was daar so ’n troon nie.

21. Al koning Salomo se drinkbekers is van goud gemaak en alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van suiwer goud. Geen silwer is ooit gebruik nie, want silwer was in Salomo se dae waardeloos.

22. Salomo het ook ’n uitstekende vloot gehad. Sy skepe het altyd saam met Hiram se vloot na ver plekke geseil. Elke drie jaar het hulle dan met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane teruggekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10