Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 13:9-14 Die Boodskap (DB)

9. Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself.

10. Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet.

11. Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie. Kyk, die einde, die groot dag van die Here, is voor die deur.

12. Trouens, dit is sommer al baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Daarom moet ons wakker word. Die nag is verby; dit is al amper dag.

13. Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar.

14. Staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie.

Lees volledige hoofstuk Romeine 13