Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Daarna is Jesus teen die heuwel af saam met ’n klomp mense wat om Hom saamgedrom het. Hulle wou meer van Hom hoor en leer. Terwyl hulle so stap, gebeur daar iets merkwaardigs.

2. ’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys.Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!”

3. Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond!

4. “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie,” vra Jesus hom toe. “Gaan liewer reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy sê dat jou vel weer skoon is en jy weer ’n normale lewe kan lei, gaan bring dan ’n offer soos Moses dit voorgeskryf het. Mense sal dan self besef wat presies met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as jou woorde.”

5. Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy:

6. “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!”

7. “Ek kom dadelik,” sê Jesus.

8. “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8