Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 7:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.

6. “Wees versigtig wanneer julle tussen mense is wat geen respek vir God het nie. Hulle verstaan glad nie hoe groot en heilig Hy is nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Soos ’n trop varke sal hulle sy goedheid onder hulle voete vertrap. Boonop gaan hulle julle ook nog beledig en vervolg.”

7. “Julle moet nooit moeg word om te bid nie. Vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak.

8. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan.

9. “Jou hemelse Vader wil net die beste dinge vir jou gee. As jy ’n pa is, behoort jy dit goed te verstaan. Jy wil mos graag net goeie dinge vir jou kinders gee, nie waar nie?

10. As jou kind vir jou ’n stukkie brood kom vra om te eet, sal jy tog nie vir hom ’n klip gee nie. Jy sal ook nie vir hom iets slegs soos ’n slang gee as hy vis wil hê om te eet nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie.

11. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal net die beste dinge gee vir diegene wat Hom daarvoor vra.”

12. “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra.

13. “Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie.

14. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 7