Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 7:4-10 Die Boodskap (DB)

4. En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie.

5. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.

6. “Wees versigtig wanneer julle tussen mense is wat geen respek vir God het nie. Hulle verstaan glad nie hoe groot en heilig Hy is nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Soos ’n trop varke sal hulle sy goedheid onder hulle voete vertrap. Boonop gaan hulle julle ook nog beledig en vervolg.”

7. “Julle moet nooit moeg word om te bid nie. Vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak.

8. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan.

9. “Jou hemelse Vader wil net die beste dinge vir jou gee. As jy ’n pa is, behoort jy dit goed te verstaan. Jy wil mos graag net goeie dinge vir jou kinders gee, nie waar nie?

10. As jou kind vir jou ’n stukkie brood kom vra om te eet, sal jy tog nie vir hom ’n klip gee nie. Jy sal ook nie vir hom iets slegs soos ’n slang gee as hy vis wil hê om te eet nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 7