Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 28:9-20 Die Boodskap (DB)

9. Terwyl hulle afsit huis toe, kom hulle skielik vir Jesus self teë. Daar het Hy gestaan.

10. “Goeiemôre!” het Hy gesê. Die vroue was totaal uit die veld geslaan. Hulle het voor Jesus neergeval en sy voete vasgegryp. Woorde van aanbidding het oor hulle lippe gestroom. Jesus sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat Ek hulle in Galilea sal kry.”

11. Die wagte het intussen die hasepad gekies. Party van hulle is terug stad toe om vir die hoëpriester te gaan vertel wat alles gebeur het.

12. Die Joodse leiers het dadelik weer ’n noodvergadering belê. Hulle het ooreengekom om wat gebeur het stil te probeer hou. Maar hulle moes by die soldate verbykom en bied toe vir hulle ’n aardige bedrag aan.

13. “Vertel asseblief vir almal dat julle deur die nag aan die slaap geraak het. Jesus se vriende het toe die kans gebruik om sy liggaam te steel. Moet julle nie verder oor iets bekommer nie. Ons sal vir alles sorg.

14. As die goewerneur vra waarom julle aan diens geslaap het, sal ons wel ’n storie uitdink wat sal keer dat iets met julle gebeur.”

15. Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat. Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel. Die Jode glo die storie tot vandag toe nog.

16. Die elf dissipels is van Jerusalem af terug Galilea toe. Daar het hulle Jesus op die berg gaan soek, soos Hy gevra het.

17. Hulle het Hom ook daar gekry. Party het nog maar baie onseker gevoel oor alles wat gebeur het. Tog het hulle Hom geloof en aanbid.

18. Jesus het nader gestaan. “God het aan My al die mag gegee wat daar is. Niemand is magtiger as Ek nie.

19. Ek wil hê julle moet iets vir My doen: “Die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaardes of verskonings te volg. As hulle bereid is om My met hulle hele lewe te volg, moet julle hulle doop op gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. So sal julle hulle inlyf om deel van God se familie te wees. Maar dan is julle nog nie klaar nie.

20. Leer hulle en lei hulle dan in alles wat Ek vir julle geleer het. Vertel hulle hoe belangrik dit is om aan My gehoorsaam te wees en te doen wat Ek vra. “En wees verseker: Ek verwag nie dat julle dit alleen moet doen nie. Elke dag, tot met die wederkoms, sal Ek self by julle wees.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 28