Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:57-66 Die Boodskap (DB)

57. Dit het al laat begin word. ’n Ryk man, Josef van Arimatea, wat ook ’n volgeling van Jesus was, het daar aangekom.

58. Hy het vir Pilatus die liggaam van Jesus gaan vra. Pilatus het beveel dat die liggaam vir hom gegee moes word.

59. Josef het die liggaam in skoon linnedoeke toegedraai en

60. dit in ’n graf gaan begrawe. Die graf het aan hom behoort. Dit was ’n nuwe graf wat hy self in die rots laat uitkap het. Omdat die graf byna soos ’n grot was, het hy ’n groot rots voor die ingang gerol. Daarna is hy weg.

61. Maria Magdalena en die ander Maria het egter voor die graf bly sit.

62. Die volgende dag, net na die voorbereidings vir die paasfees, is die Joodse leiers en die Fariseërs na Pilatus toe.

63. “U Edele,” het hulle gesê, “iets het ons intussen bygeval. Toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy beweer dat hy na drie dae uit die dood opgewek sal word.

64. Wees asseblief so vriendelik om opdrag te gee dat die graf drie dae lank goed opgepas word. Sy dissipels sal hom dan nie kan kom steel en die storie vir almal vertel dat hy uit die dood opgewek is nie. So ’n storie sal baie erger wees as die een dat hy opgewek gaan word!”

65. Pilatus sê vir hulle: “Nou maar goed; julle het julle wagte. Gaan pas die graf so goed op as wat julle kan.”

66. Hulle is toe daar weg om die graf te gaan oppas. Hulle het nie slegs die ingang met die klip toegemaak nie, maar ook wagte daar gelos.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27