Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Met sonsopkoms het die Joodse leiers hulle besluit beklink: Jesus moes doodgemaak word.

2. Daarom het hulle Hom geboei en na Pilatus, die goewerneur, gestuur.

3. Judas, wat Hom verraai het, het alles mooi dopgehou. Toe hy agterkom wat die Joodse leiers oor Jesus besluit het, het hy vreeslik sleg gevoel. Sy gewete het hom begin pla. Hy het die omkoopgeld gevat en dit vir die Joodse leiers gaan teruggee.

4. “Dè, vat! Ek het ’n groot fout gemaak. Ek het ’n onskuldige man in die moeilikheid laat beland.” “Dit is jou saak. Dit pla ons nie,” sê die Jode.

5. Judas gooi toe die geld net daar in die tempel neer en hardloop weg. Later het hulle hom gekry waar hy homself opgehang het.

6. Die priesters het die geld gevat en gesê: “Dit is jammer, maar ons kan nie hierdie geld as kollekte vir die tempel vat nie. Dit is mos geld wat vir iemand se lewe betaal is.”

7. Hulle het besluit om die geld te gebruik om ’n begraafplaas aan te skaf vir vreemde mense wat nie familie in Jerusalem gehad het om hulle te begrawe nie. Hulle het ’n stuk grond by ’n pottebakker gekoop.

8. Daarom is daardie begraafplaas tot vandag toe nog bekend as “Bloedgrond”.

9. Dit was net soos die profeet Jeremia lank terug gesê het:“En hulle het die 30 stukke silwer gevat, die prys wat die Israeliete op sy kop gesit het,

10. en dit vir die grond van die pottebakker betaal. Dit is die Here se instruksies aan my.”

11. Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur. “Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27