Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:28-37 Die Boodskap (DB)

28. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan.

29. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.”

30. Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe.

31. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos:‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’

32. “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.”

33. Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.”

34. “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.”

35. “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê.

36. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.”

37. Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26