Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:27-35 Die Boodskap (DB)

27. Die Seun van God sal nie skelm of in die geheim kom en iewers wegkruip sodat mense Hom moet gaan soek nie. Wees verseker: wanneer Hy kom, sal almal, en Ek bedoel almal, dit weet. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en ’n mens dan alles vir daardie oomblik helder kan sien. So helder en duidelik sal almal die Seun ook sien wanneer Hy kom. Moenie julle laat kul deur die baie mense wat agter hierdie bedrieërs aanloop nie. Waar baie mense saamdrom, kry jy nie noodwendig die waarheid nie.

28. Immers, aasvoëls kom ook in groot troppe rondom vrot vleis bymekaar.”

29. “Daardie swaarkry sal skaars verby wees of die son sal skielik dowwer word, en die maan sal glad nie meer opkom nie. Die sterre sal uit die hemel val en die natuurwette wat die skepping beheer, sal hulle krag verloor.

30. Hierdie dinge is die teken waarvoor julle moet wag. Dan sal die Seun soos ’n weerligstraal kom. Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie oral openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil en uitskreeu: ‘Wat het ons besiel om nie te luister nie, wat het ons aangevang!’

31. Terselfdertyd sal die Seun se hemelse helpers al God se mense oor die hele wêreld gaan haal en na Hom toe bring.

32. “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is.

33. Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is.

34. “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie.

35. Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24