Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 17:17-27 Die Boodskap (DB)

17. Jesus draai om na sy dissipels toe en sê vir hulle: “Julle ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle sal glo? Dit kan nie langer so aangaan nie! Kry julle lewens in orde. My geduld is nou besig om op te raak.”Jesus sê toe vir die man: “Bring gou die seun hier.”

18. Toe die seun by Jesus kom, het Hy die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Die seun was dadelik gesond.

19. Kort daarna, toe hulle alleen was, het die dissipels halfverleë na Jesus toe gekom. “Hoekom kon ons nie daardie duiwel uit die seun verdryf nie?” het hulle Hom gevra.

20. “Omdat julle geloof te klein is,” het Hy reguit geantwoord. “Julle maak nie erns met God nie. Weet julle, as julle geloof in Hom maar net so groot soos ’n klein mosterdsaadjie is, sal julle onmoontlike dinge regkry. Dan sal julle enige struikelblok in julle lewe kan oorkom, hoe groot dit ook al is. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘Skuif uit die pad uit!’ dan sal dit gebeur. Niks is onmoontlik vir mense wat op God vertrou nie.”

22. Kort daarna het Jesus se ander volgelinge in Galilea by Hom en sy dissipels aangesluit. Hy sê toe vir hulle: “Weet julle, Ek gaan binnekort in die hande van wrede mense val.

23. Hulle gaan My vermoor. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is sterker as die dood. Op die derde dag sal Ek weer deur God lewendig gemaak word.”Hierdie nuus was ’n groot skok vir hulle.

24. Kort daarna het amptenare wat elke jaar die tempelbelasting insamel by Petrus se huis in Kapernaum opgedaag. “Betaal daardie leermeester van julle ook sy tempelbelasting?” het hulle vir Petrus gevra.

25. “Natuurlik!” het Petrus geantwoord.Toe Petrus daarna in die huis kom, het Jesus hom ingewag met ’n moeilike vraag: “Simon, sê My, van wie vorder ’n koning belasting in: van sy eie kinders, of van al sy onderdane?”

26. “Van sy onderdane,” het Petrus dadelik geantwoord. “’n Koning se eie kinders betaal tog nie belasting aan hulle pa nie.”“Ja, jy’s reg,” sê Jesus. “’n Koning laat tog nie sy kinders belasting betaal nie.

27. Wel, dan geld dieselfde mos van My. Ek is God se Seun. Daarom hoef Ek nie tempelbelasting te betaal nie. Maar wag, netnou sê die mense lelike dinge oor My. Daarom sal Ek dit liewer maar betaal. “Petrus, gaan gou see toe en gooi jou lyn in. In die eerste vis wat jy vang se bek sal daar genoeg geld wees om ons al twee se tempelbelasting te betaal. Vat dit namens jou en My daar na die belastinggaarders toe.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 17