Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16:10-23 Die Boodskap (DB)

10. En wat van die ander keer toe Ek vir 4 000 mense met sewe brode kos gegee het? Toe het daar ook ’n hele klomp mandjies vol kos oorgebly.

11. Hoe kan julle dan nog dink dat Ek oor kos gepraat het toe Ek gesê het dat julle moet lig loop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs?”

12. Toe begryp die dissipels dat Jesus nie met hulle gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie. Hulle het besef dat Hy hulle wou waarsku teen die verkeerde leringe van die Fariseërs en die Sadduseërs. Dit is soos suurdeeg wat ’n mens se hele lewe deurmekaarkrap.

13. Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?”

14. Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.”

15. Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?”

16. Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.”

17. Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak.

18. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie.

19. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.”

20. Nadat Jesus al hierdie dinge vir die dissipels gesê het, het Hy hulle verbied om vir ander mense te sê dat Hy die Messias, God se Gestuurde, is.

21. Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak.

22. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.”

23. Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 16