Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:25-35 Die Boodskap (DB)

25. Hierdie woorde het haar nog nie afgesit nie. Sy het voor Jesus kom neerval en by Hom gepleit: “Here, help my, asseblief!”

26. Hy sê toe vir haar: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van sy volk is nie.”

27. “Ag, Here, dit is waar,” het sy geantwoord. “Maar partykeer is onrein mense bereid om die oorskietkos te eet wat op die grond beland. U kan gerus voortgaan met u bediening aan Israel. Laat asseblief tog net ’n stukkie van u genade na my kant toe val!”

28. “Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond.

29. Na hierdie episode het Jesus na die gebied by die See van Galilea teruggekeer. Daar het Hy ’n ent teen ’n berg opgeklim en gaan sit.

30. ’n Groot aantal mense het daar na Hom toe gekom. Hulle het baie siekes saamgebring: verlamdes, blindes, doofstom mense, gebreklikes en sommer nog ’n menigte. Hierdie siek mense is almal gesond gemaak.

31. Doofstommes het begin praat; gebreklikes se ledemate was weer normaal; verlamdes het begin rondbeweeg, en die blindes kon sien.Almal wat hierdie groot wonderwerk gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het God hardop geprys.

32. Terwyl die skare nog in vervoering was oor wat om hulle gebeur het, het Jesus sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir hierdie mense. Hulle is al ’n volle drie dae hier by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger huis toe stuur nie. Dalk maak hulle dit nie op die lang pad terug nie.”

33. Die dissipels vra verbaas vir Jesus: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg kos kry vir so ’n menigte?”

34. “Hoeveel brood het julle by julle?” vra Hy.“Sewe brode en ’n paar vissies,” antwoord hulle.

35. Jesus laat toe al die mense sit.

Lees volledige hoofstuk Matteus 15