Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:11-29 Die Boodskap (DB)

11. niks wat julle eet, maak julle onrein in God se oë nie. Nee, dit wat van binne af oor julle lippe kom, maak julle lewe onrein. As julle hart vol boosheid is, sal julle woorde dit wys.”

12. ’n Rukkie later kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Weet U hoe kwaad die Fariseërs vir U was oor wat U vir hulle gesê het?”

13. Jesus antwoord toe: “My hemelse Vader sal elkeen wat nie in Hom glo nie in die hel gooi.

14. Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ’n sloot.”

15. Petrus sê toe vir Jesus: “Ek verstaan nie mooi wat U sê nie. Verduidelik asseblief vir ons wat U bedoel.”

16. Jesus antwoord: “Hoe is dit moontlik? Het julle regtig so min begrip vir wat Ek sê?

17. Verstaan julle nie dat alle kos wat ’n mens eet, in jou maag beland en later uit jou liggaam uitgeskei word nie?

18. Maar dit wat jy sê, kom uit jou hart.

19. Dáár ontstaan slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, om ontrou aan jou huweliksmaat te wees, om onsedelike dade te pleeg, om te steel en te lieg en lelike dinge teen God te sê.

20. Wanneer jy hierdie dinge uitdink, maak dit jou onrein. Dan is God nie met jou lewe tevrede nie. Dit gaan vir Hom glad nie daaroor of jy jou hande voor ete was of nie. Sulke dinge kan ’n mens nie onrein maak nie.”

21. Hierna het Jesus na die gebied van Tirus en Sidon vertrek.

22. ’n Vrou wat daar gebly het, maar wat nie ’n Israeliet was nie, het na Hom toe gekom en hardop uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, help my tog! My kind is in die mag van ’n bose gees.”

23. Jesus het egter gemaak of Hy haar nie hoor nie. Maar sy het nie moed verloor nie. Sy het agter Hom bly aanloop en om genade gepleit.Die dissipels was later baie omgekrap oor hierdie vrou. Hulle sê toe vir Jesus: “Jaag haar weg. Sy maak ons gek met haar geskreeu.”

24. Jesus sê vir die vrou: “Ek het net een taak. Dit is om die mense in Israel wat ver van God af lewe na Hom toe terug te bring.”

25. Hierdie woorde het haar nog nie afgesit nie. Sy het voor Jesus kom neerval en by Hom gepleit: “Here, help my, asseblief!”

26. Hy sê toe vir haar: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van sy volk is nie.”

27. “Ag, Here, dit is waar,” het sy geantwoord. “Maar partykeer is onrein mense bereid om die oorskietkos te eet wat op die grond beland. U kan gerus voortgaan met u bediening aan Israel. Laat asseblief tog net ’n stukkie van u genade na my kant toe val!”

28. “Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond.

29. Na hierdie episode het Jesus na die gebied by die See van Galilea teruggekeer. Daar het Hy ’n ent teen ’n berg opgeklim en gaan sit.

Lees volledige hoofstuk Matteus 15