Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 8:21-38 Die Boodskap (DB)

21. Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan nog steeds nie insien dat dit nie brood is waarteen Ek julle waarsku nie?”

22. Toe Jesus-hulle in Betsaida aankom, bring die mense ’n blinde man na Jesus toe en vra Hom baie mooi om die man gesond te maak.

23. Jesus vat toe die man aan die hand en lei hom uit die dorpie uit. Jesus spoeg toe op die man se oë en sit sy hand op die man. “Sien jy enigiets?” vra Jesus hom.

24. Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar net baie vaagweg. Hulle lyk amper soos bome wat rondloop.”

25. Weer ’n keer vat Jesus aan die man se oë. Hierdie keer kon hy alles sien. Sy oë was heeltemal gesond.

26. Jesus sê toe vir die man: “Gaan nou reguit huis toe en moenie eers in die dorp ’n draai gaan maak nie.”

27. Jesus-hulle is van daar af na die klein dorpies rondom Sesarea-Filippi toe. Terwyl hulle op pad was, vra Jesus sy volgelinge: “Wie sê die mense is Ek?”

28. “Hulle verskil nogal daaroor,” kom die antwoord. “Party sê U is Johannes die Doper en ander Elia. Dan is daar ’n klompie wat dink U is een van die spesiale boodskappers van God.”

29. “Maar julle, wat sê julle van My? Wie is Ek?” vra Jesus hulle toe.Petrus sê toe: “U is Christus, die beloofde Redder.”

30. Jesus vra hulle toe mooi om dit nie vir ander te sê nie.

31. Toe begin Hy met hulle oor Homself praat. Hy vertel hulle dat die Redder, die Seun van die mens, baie swaar gaan kry en dat al die belangrikste leiers van die Jode, of dit op politieke of godsdienstige gebied is, teen Hom gaan draai. Hulle gaan Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy weer lewendig word.

32. Jesus het niks weggesteek nie. Petrus gaan staan toe eenkant met Jesus en sê vir Hom dat Hy nie so moet praat nie.

33. Jesus het egter omgedraai en na sy volgelinge gekyk. Hy praat toe streng met Petrus: “Gee pad agter My, Satan!” sê Hy. “Al wat vir jou saak maak, is wat mense wil hê. Jy gee nie om wat God wil hê nie.”

34. Jesus roep die ander mense ook na Hom en sy volgelinge toe en begin met hulle praat: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie. Om My te volg is nie altyd maklik nie. “Dit is soos om jou eie kruis na jou dood toe te moet dra as Ek dit van jou vra. Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken.

35. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen.

36. Maar vra eers vir jouself die volgende vraag: Wat help dit as al die skatte in die wêreld joune is, maar daar is nie vir jou plek by God nie?

37. ’n Mens kan nie vir jou ’n plek by God koop met al die geld in die wêreld nie.

38. As iemand hom vir My of my boodskap skaam voor hierdie klomp goddelose, slegte mense in die wêreld, sal Ek My vir daardie persoon skaam wanneer Ek by my wonderlike groot Vader met al sy engele is.

Lees volledige hoofstuk Markus 8