Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:29-41 Die Boodskap (DB)

29. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is.

30. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra.

31. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai.

32. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.”

33. Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink.

34. Alles het Hy vir hulle met sulke voorbeelde uiteengesit. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel.

35. Toe dit begin skemer word, sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.”

36. Die dissipels is toe saam met Jesus, wat nog in die skuit was, daar weg. Die ander mense het op die strand agtergebly, hoewel party wel met skuitjies saam oorkant toe is.

37. Daar bars toe ’n woeste storm los. Die golwe het tot binne-in die skuit geslaan en die skuit het vol water begin word.

38. Jesus het agter in die skuit op ’n kussing gelê en slaap. Die dissipels skud Hom toe wakker en sê: “Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?”

39. Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe: “Stil! Word rustig.” Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm.

40. Toe draai Hy na sy dissipels toe: “Vir wat was julle so bang? Vertrou julle My dan nie?”

41. Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in sy teenwoordigheid. “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê,” het hulle onder mekaar gewonder.

Lees volledige hoofstuk Markus 4