Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:22-33 Die Boodskap (DB)

22. Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word.

23. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê.

24. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan.

25. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.”

26. Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai.

27. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur.

28. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar.

29. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is.

30. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra.

31. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai.

32. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.”

33. Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink.

Lees volledige hoofstuk Markus 4