Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:1-14-15 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n ander keer is Jesus weer na die bymekaarkomplek van die Jode toe. Daar was ’n man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was.

2. Daar was Fariseërs wat Jesus graag in die moeilikheid wou bring. Hulle het Hom fyn dopgehou om te sien of Hy die gebreklike man op die sabbat gesond sou maak. Jesus stel hulle toe nie teleur nie.

3. Hy sê vir die siek man: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.”

4. Toe draai Jesus na die moeilikheidmakers toe: “Wat dink julle mag ’n mens op die sabbat doen? Moet jy goeddoen, of kwaad? Moet jy iemand se lewe red, of hom doodmaak?” Hulle het niks gesê nie.

5. Jesus het verontwaardig na hulle gekyk. Hy was veral omgekrap omdat hulle nie hulle fout wou insien en erken dat hulle verkeerd was nie. Hy sê toe vir die siek man: “Steek uit jou hand.” Hy doen dit toe, en daar was sy hand heeltemal gesond.

6. Die godsdienstige Jode wat aan die party van die Fariseërs behoort het, is toe daar uit en het saam met die mense wat Herodes ondersteun het, begin planne maak om Jesus dood te maak.

7-8. Jesus is weer met sy volgelinge see toe. ’n Groot groep mense uit Galilea is saam met hulle. Maar die nuus oor alles wat Jesus gedoen het, het ver oor die grense van Galilea versprei. Uit alle rigtings soos Judea en Jerusalem, selfs van Idumea, Tirus en Sidon en van die oorkant van die Jordaan af het die mense gekom.

9. Jesus vra toe sy dissipels om ’n klein bootjie reg te hou sodat Hy daarin kon klim as die mense te veel om Hom saamdrom.

10. Jesus het baie mense gesond gemaak en daarom het almal wat siek was vorentoe gebeur om net aan Hom te kon raak.

11. Elke keer as iemand met ’n bose gees Hom gesien het, het hy op die grond voor Hom neergeval en uitgegil: “Jy is die Seun van God.”

12. Maar Hy het hulle ernstig verbied om te sê wie Hy is.

13. Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan.

14-15. Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem.

Lees volledige hoofstuk Markus 3