Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is.

8. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het.

9. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom.

10. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!”

11. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan.

12. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword.

13. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was.

14. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê.

Lees volledige hoofstuk Markus 11