Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:35-49 Die Boodskap (DB)

35. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste.

36. Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om.”

37. “Moenie ander mense oordeel nie. Dan sal God julle ook nie oordeel nie. Moenie ander mense tot in die doderyk verdoem nie. Dan sal God julle ook nie verdoem nie. Vergeef ander mense, dan sal God julle ook vergewe.

38. “Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom.

39. “As jy blind is, kan jy nie ’n ander blinde rondlei nie. Kort voor lank val julle albei in ’n sloot.

40. “’n Leerling is nooit belangriker as sy onderwyser nie. As hy alles weet wat sy onderwyser hom geleer het, weet hulle ewe veel. Ken daarom jou plek voor God en ander. Wees nederig.

41. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir daardie groot houtstomp wat in jou eie oog vassit?

42. En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou-gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.”

43. “’n Goeie boom dra nooit slegte vrugte nie. En ’n slegte boom dra ook nooit goeie vrugte nie.

44. ’n Mens ken ’n boom uit aan die soort vrugte wat dit oplewer. Niemand verwag tog om vye aan ’n doringbos te kry nie. Of druiwe aan ’n spul doringtakke nie.

45. Goeie mense is soos goeie bome. Uit hulle binneste kom daar net goeie dinge. En slegte mense is soos slegte bome. Uit hulle binneste kom daar net lelike dinge. Luister maar net wat mense sê, dan weet julle watter soort mense hulle is. Mense se woorde wys wat in hulle harte aangaan.

46. “Julle praat so maklik. Kyk net hoe graag sê julle: ‘Here, ons Here,’ maar julle doen net mooi niks wat Ek vir julle sê nie.

47. “Mense wat luister na wat Ek sê en dit doen, is verstandig.

48. Hulle is soos ’n man wat op ’n dag ’n huis begin bou het. Hierdie man het sy huis se fondament baie diep uitgegrawe tot in die rots. Sy huis was skaars klaar toe breek daar ’n groot storm los. Dit het net gereën en gereën. Kort voor lank het ’n massa vloedwater teen sy huis opgedam, maar dit het geen skade aan sy huis aangerig nie. Die huis se fondament was daarvoor veels te sterk. Dit was op rots gebou. So is mense wat doen wat Ek sê.

49. “Aan die ander kant: mense wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie, is soos ’n ander man wat sy huis sommer vinnig aanmekaargeslaan het, sonder ’n behoorlike fondament. Toe die storm daardie huis tref, het al die stormwater dit in ’n paar oomblikke uitmekaargeruk. Daar het net mooi niks van sy nuwe huis oorgebly nie. So sal dit met almal gaan wat nie doen wat Ek sê nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 6