Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Die duiwel het toe ’n ander strategie gebruik. Hy het Jesus teen ’n berg opgevat en in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld aan Hom gewys.

6. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune, met al hulle mag en glorie. Eintlik behoort hulle aan my. Ek kan met al die volke op die aarde maak net wat ek wil. Maar ek het besluit om dit alles vir jou te gee.

7. Daar is net een voorwaarde: buig voor my. Aanbid my as jou god. Dan is die hele wêreld joune.”

8. Jesus het geweier. Hy het die duiwel geantwoord: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘Jy mag net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’”

9. Daarna het die duiwel vir Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar aangekom, het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys nou dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af!

10. Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het sy engele beveel om jou te beskerm.’

11. En: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’”

12. Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’”

13. Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos.

14. Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is.

15. Jesus het oral in die sinagoges gepreek waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid. Die mense het groot respek vir Jesus gehad.

Lees volledige hoofstuk Lukas 4