Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:3-13 Die Boodskap (DB)

3. Pilatus vra toe vir Jesus: “Is al hierdie dinge waar? Dink jy regtig jy is die koning van die Jode?”“U het dit gesê,” het Jesus geantwoord.

4. “Ag nee wat, hy is onskuldig. Hy het niks verkeerds gedoen nie,” het Pilatus vir die godsdienstige leiers en die skare gesê wat om hom saamgedrom het.

5. Maar die godsdienstige leiers was glad nie daarvoor te vinde nie. “Nee, hierdie man is baie gevaarlik. Hy stook almal op, van Galilea af tot hier in Jerusalem.”

6. Toe Pilatus hoor dat hulle van Galilea praat, vra hy dadelik: “Kom hy dan uit Galilea?”

7. Toe almal ja sê, het Pilatus besluit om Jesus na Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, te stuur, want hy was ook in daardie tyd in Jerusalem.

8. Toe Jesus by Herodes aankom, was hy bly. “Aha! Uiteindelik kry ek die man te sien van wie ek so baie gehoor het,” het Herodes gesê. “Nou toe, doen gou vir my die een of ander groot teken.”

9. Jesus het egter net daar gestaan sonder om enigiets te sê. Herodes het Hom die een ding na die ander gevra, maar Hy het niks geantwoord nie.

10. Die godsdienstige leiers en die kenners van die Skrif wat ook daar was, het hierdie kans benut om Jesus van alles wat sleg is te beskuldig.

11. Later was Herodes baie vies dat Jesus hom ignoreer. Hy en sy soldate het Hom sleggesê en rondgestamp. Toe het hulle vir Jesus deftige klere aangetrek. “Jy wil mos so graag ’n koning wees. Gaan wys nou vir Pilatus hoe lyk jy met jou koningsklere,” het Herodes spottend vir Jesus gesê en Hom teruggestuur.

12. Terloops, op daardie dag het Pilatus en Herodes die strydbyl begrawe en goeie vriende geword.

13. Kort daarna het Pilatus al die belangrikste godsdienstige leiers van die Jode na hom toe ontbied. Hy sê toe vir hulle:

Lees volledige hoofstuk Lukas 23