Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:54-68 Die Boodskap (DB)

54. Die mense het Jesus gevange geneem. Van daar af is hulle met Hom reguit na die hoëpriester se huis toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg.

55. Hy het gesien dat ’n klompie mense ’n vuur daar in die agterplaas gemaak het om hulle warm te hou. Hy het toe tussen hulle gaan sit.

56. Een van die vroue wat in die hoëpriester se kombuis werk, het hom dadelik herken. Sy sê vir die ander: “Ek het daardie man al saam met Jesus van Nasaret gesien. Hy is een van sy vriende.”

57. Maar Petrus het dit dadelik ontken en gesê: “Vroumens, jy maak ’n groot fout! Ek en daardie man is glad nie vriende nie.”

58. ’n Rukkie later het iemand anders ook vir Petrus herken en vir hom gesê: “Maar jy is dan een van die volgelinge van daardie Jesus!”“Kyk, jy’s heeltemal laf!” het Petrus vinnig gereageer.

59. ’n Uur of wat later het nog iemand vir die ander mense gesê: “Sowaar, daardie man is ook ’n volgeling van daardie man van Nasaret. Luister net na sy aksent. Hulle klomp daar in Galilea sê mos sekere woorde anders as ons hier in Judea.”

60. “Hoor hier, ek was nog nooit eens naby Hom nie,” het Petrus geantwoord. Terwyl hy nog praat, het ’n haan iewers in die vroeë oggendure gekraai.

61. Jesus het geweet dat Petrus so ’n entjie van Hom af tussen die mense staan. Die Here draai toe om en kyk hom stip in die oë. Toe tref die Here se woorde van vroeër die aand vir Petrus soos ’n voorhamer: “Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.”

62. Petrus het toe in die donker ingehardloop en bitterlik gehuil.

63. Intussen het die spul wat vir Jesus gevang het met Hom gespot en Hom rondgestamp.

64. Hulle het Hom geslaan en gesê: “Toe, sê vir ons wat is die man se naam wat jou slaan. Jy is mos so ’n groot profeet!”

65. Hulle het Jesus ook beledig en allerhande godslasterlike dinge teenoor Hom kwytgeraak.

66. Die volgende oggend het ’n paar godsdienstige leiers besluit om Jesus voor die Joodse Raad te bring. ’n Noodvergadering van die Joodse Raad waarop al die belangrikste godsdienstige leiers sitting gehad het, is dadelik belê.

67. Toe Jesus voor hulle kom, sê hulle vir Hom: “Kyk, moenie met ons speletjies speel nie. Sê reguit vir ons: is jy die Christus, die Een wat deur God na ons toe gestuur is, of nie?”

68. “Wat help dit Ek antwoord julle? Julle sal My in elk geval nie glo nie,” het Jesus gesê. “En as Ek julle iets vra, sal julle My ook nie antwoord nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22