Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 21:3-11 Die Boodskap (DB)

3. “Sien julle die weduwee wat daar van die skatkis af wegstap? Wel, sy het so pas die grootste skenking ooit aan die tempel gemaak.

4. Haar paar sente was meer as al die sakke vol geld wat die ryk mense elke dag soontoe aandra. Hulle gee uit hulle oorvloed so ’n ietsie weg, maar sy het alles vir God gegee wat sy op haar naam gehad het. Nou het sy nie meer ’n sent op haar naam oor nie.”

5. Daarna het party van Jesus se volgelinge met mekaar gestaan en praat oor hoe mooi die tempel is. Hulle het hulle verkyk aan die reuseklippe en aan al die pragtige versierings.

6. Jesus sê toe: “Een van die dae sal daar niks oor wees van alles wat julle nou hier voor julle eie oë sien nie. Hierdie gebou gaan tot op die grond afgebreek word.”

7. Toe sê sy volgelinge benoud vir Hom: “Leermeester, sê vir ons wanneer dit gaan gebeur. Sê asseblief ook vir ons hoe ons sal weet wanneer die einde van die wêreld naby is.”

8. “Wees versigtig vir daardie mense wat allerlei stories hieroor opmaak,” sê Jesus toe vir hulle. “Baie mense sal sommer uit die bloute hier by julle opdaag en sê: ‘Kyk, dit is Ek, die Messias! Nou is God se nuwe wêreld uiteindelik hier!’ Maar moenie na hulle luister nie. Hulle is ’n spul leuenaars.

9. “Wanneer mense begin oorlog maak en mekaar probeer uitwis, is die einde ook nog nie daar nie. Moenie dan paniekerig raak nie. Hierdie dinge gaan nog alles gebeur.

10. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser probeer ontslae raak.

11. Daar sal ook op baie plekke aardbewings wees en kos sal baie skaars raak. Hongersnood sal aan die orde van die dag wees. So ook allerhande siektes. Groot rampe sal die aarde tref. Al dié slegte dinge sal die aarde teister.

Lees volledige hoofstuk Lukas 21