Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 20:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Eendag toe Jesus in die tempel besig was om die mense te leer wat God van hulle vra, het ’n klomp van die godsdienstige leiers en ’n paar ander belangrike mense uit Jerusalem ook by die skare aangesluit.

2. Hulle vra toe: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?”

3. Maar Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers gou ’n vraag vra.

4. Sê My, wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?”

5. Die leiers het dadelik besef hulle is in ’n hoek. Hulle sê toe onderlangs vir mekaar: “Kyk, as ons sê God het Johannes die reg gegee, sal Jesus vir ons vra: ‘Waarom het julle dan nie geglo wat hy gesê het nie?’

6. As ons egter antwoord dat die mense Johannes die reg gegee het om te doop, sal die volk ons uitmekaarskeur. Hulle almal dink mos dat Johannes ’n profeet was wat sy gesag van God af gekry het.”

7. Om uit die moeilikheid te bly antwoord hulle toe: “Nee, ons weet nie.”

8. Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Wel, dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.”

9. Daarna het Jesus vir die mense die volgende verhaal vertel: “Daar was eendag ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het. Hy moes kort daarna op ’n reis na ’n ver land gaan. Hy verhuur toe die wingerd aan ’n groep ander boere. Die eienaar het met hulle ooreengekom dat hulle hom ’n deel van die druiwe as huur vir die grond sou betaal.

10. “Later, toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar een van sy werkers om die deel wat hy moes kry te gaan haal. Maar die arme werker is deur die boere aangerand en weggejaag.

11. “Toe stuur die eienaar een van sy ander werkers na die plaas toe. Maar presies dieselfde het met hom gebeur. Hy is pimpel en pers geslaan en van ’n kant af beledig.

12. Daarna het die boer ’n derde werker na sy plaas toe gestuur. Maar hy is halfdoodgeslaan en ook met leë hande van die plaas af weggejaag.

13. “Toe sê die eienaar vir homself: ‘Wat moet ek nog doen? Al wat nog oorbly, is dat ek my seun vir wie ek so lief is na hulle toe moet stuur. Hulle behoort mos vir hom net soveel respek te hê as vir my.’

14. “Maar toe die huurders die seun sien aankom, het hulle gou-gou koppe bymekaargesit: ‘Kyk, dis nou ons kans. As ons daardie seun doodmaak, sal ons later self die grond in die hande kan kry.’

15. “Toe pak die spul boere die seun en sleep hom tot buite die wingerd. Daar het hulle hom doodgemaak.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 20