Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan.

5. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan.

6. Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word.

7. Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol.

8. Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas.

9. Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik.

10. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel:

11. vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.

12. Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!”

13. Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys:

14. “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”

15. Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.”

16. Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie.

17. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het.

18. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2