Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:24-40 Die Boodskap (DB)

24. Toe Jesus agterkom hoe omgekrap die ryk man is, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se nuwe wêreld te kry nie.

25. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om sy voete in God se nuwe wêreld te sit.”

26. Die omstanders was verbysterd oor hierdie woorde. Hulle vra Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word?”

27. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. Vertrou op Hom.”

28. Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Sê asseblief reguit vir ons wat ons kans is om daar uit te kom. Kyk, ons het immers al ons besittings verkoop en u volgelinge geword.”

29. “Ek het baie goeie nuus vir julle!” het Jesus dadelik geantwoord. “Ek gee julle vandag die versekering dat almal wat iets groots moes opoffer om te doen wat God vra, definitief ’n plek in sy nuwe wêreld sal kry. As jy jou familie moet opoffer omdat jy in My glo, sal jy daarvoor vergoed word. Sommer nou al.

30. Ja, jy sal elke dag oorlaai word met God se goedheid. En jy sal vir seker ook ’n plek kry in sy nuwe wêreld.”

31. Op ’n dag het Jesus die twaalf dissipels eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Julle weet dat ons op pad is Jerusalem toe. Ek moet soontoe gaan om alles te laat waar word wat daar in die Bybel oor die Seun van die mens geskryf is.

32. Daar in Jerusalem gaan ’n spul ongelowiges My vang. Hulle sal My voor almal spot en beledig en slaan.

33. Uiteindelik sal hulle My ook doodmaak. Maar moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie. Ek sal op die derde dag weer lewendig word.”

34. Die dissipels het egter niks verstaan van wat Jesus vir hulle sê nie. Die tyd was nog nie reg dat hulle dit alles sou verstaan nie.

35. Later, toe Jesus naby Jerigo kom, sit daar ’n blinde langs die pad en bedel.

36. Die man het agtergekom ’n groot klomp mense stap by hom verby. “Wat is aan die gang?” vra hy toe.

37. “Jesus van Nasaret gaan hier verby,” het iemand geantwoord.

38. Die blinde man het dadelik hard begin skree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!”

39. Maar die mense het vir hom gesê: “Bly stil! Hou op om so te skree!” Dit het nie gehelp nie. Die blinde het net nog harder geskree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!”

40. Jesus gaan staan toe stil en sê vir die mense: “Bring daardie man wat so skree na My toe.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 18