Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:1-5 Die Boodskap (DB)

1. Toe sê Jesus vir sy volgelinge: “Dis nou maar eenmaal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink.

2. Veral as hulle maak dat een van my klein kindertjies in die sonde val en die spoor byster raak. Sulke mense is dan beter daaraan toe in die middel van die see met ’n reuserots om die nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf.

3. “Sorg dat jy elke dag op die regte pad bly. Wanneer dinge skeefloop tussen jou en ander gelowiges, gaan stel dit dadelik reg. Veral wanneer ’n ander gelowige ’n lelike ding aan jou doen. Gaan spreek hom daaroor aan. As hy jammer is daaroor, moet jy hom dadelik vergewe en daarvan vergeet.

4. Ja, al doen hy sewe keer elke dag lelike dinge aan jou en hy kom sê sewe keer vir jou: ‘Ek is verskriklik jammer oor wat ek gedoen het. Vergewe my, asseblief,’ dan moet jy dit doen.”

5. Toe sê Jesus se twaalf apostels vir Hom: “Here, dis so moeilik om al hierdie dinge te doen wat U sê. En ons geloof is so klein. Gee ons asseblief nog geloof.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 17