Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Toe sê Jesus vir sy volgelinge: “Dis nou maar eenmaal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink.

2. Veral as hulle maak dat een van my klein kindertjies in die sonde val en die spoor byster raak. Sulke mense is dan beter daaraan toe in die middel van die see met ’n reuserots om die nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf.

3. “Sorg dat jy elke dag op die regte pad bly. Wanneer dinge skeefloop tussen jou en ander gelowiges, gaan stel dit dadelik reg. Veral wanneer ’n ander gelowige ’n lelike ding aan jou doen. Gaan spreek hom daaroor aan. As hy jammer is daaroor, moet jy hom dadelik vergewe en daarvan vergeet.

4. Ja, al doen hy sewe keer elke dag lelike dinge aan jou en hy kom sê sewe keer vir jou: ‘Ek is verskriklik jammer oor wat ek gedoen het. Vergewe my, asseblief,’ dan moet jy dit doen.”

5. Toe sê Jesus se twaalf apostels vir Hom: “Here, dis so moeilik om al hierdie dinge te doen wat U sê. En ons geloof is so klein. Gee ons asseblief nog geloof.”

6. “Julle sê julle wil meer geloof hê,” het Jesus dadelik gereageer. “Weet julle, julle hoef nie baie geloof te hê om groot dinge vir die Here te doen nie. ’n Klein bietjie is meer as genoeg. Gebruik dit net! Kyk, as julle geloof maar net so groot soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie vrugteboom gesê het: ‘Skuif! Gaan staan daar in die middel van die see.’ Dan sou die boom na julle geluister en see toe geskuif het.”

7. “Wanneer julle iemand aanstel om in julle tuin te werk en om elke dag vir julle kos te maak, moet hy dit doen. As hy na ’n lang dag se werk in die tuin in die kombuis kom,

8. sê julle mos nie vir hom nie: ‘Toemaar, jy hoef nie meer kos te maak nie. Kom sit gou hier op my plek aan die tafel. Omdat jy so moeg is, sal ek maar kos maak.’“Nee, natuurlik nie. Julle sal eerder vir hom sê: ‘Toe, kry gou-gou die aandete gereed. Trek vir jou skoon klere aan en kom bedien ons. As ek en my gaste klaar geëet het, moet jy ook sorg dat alles opgeruim is. Daarna kan jy iets gaan eet.’

9. “Is dit nodig om daardie werker te smeek om elke dag in die tuin te werk of om die kos te maak? Moet julle heeltyd op julle knieë staan en hom soebat? Nee, natuurlik nie.

10. “So gaan dit ook met julle wanneer julle My dien. Wanneer julle alles gedoen het wat Ek vir julle gesê het om te doen, hoef Ek mos nie ’n sertifikaat vir goeie diens aan julle te gee nie. Nee, julle is mos in my diens. Julle moet doen wat Ek sê. Al wat julle van julle kant af hoef te sê, is: ‘Ons is so gelukkig dat Jesus ons gekies het om sy dienaars te wees. Ons verdien dit nie. Daarom is dit ons plig om alles te doen wat Hy sê.’”

11. Op pad Jerusalem toe het Jesus deur Samaria en Galilea gereis.

12. In een van die dorpe het tien melaatses op Hom afgekom. Hulle het ’n lelike velsiekte gehad wat veroorsaak het dat hulle nie tussen ander mense kon bly nie. Hulle het ’n hele ent van Jesus af gaan staan omdat hulle nie toegelaat is om naby gesonde mense te kom nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 17