Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 16:17-23 Die Boodskap (DB)

17. “Maar verstaan My goed: Ek kom skaf nie die wet af nie. Dit sal bly bestaan. Solank die son nog skyn en daar sterre in die hemel is, sal elke letter van die wet van krag bly.

18. “Kom Ek verduidelik vir julle hoe julle nou die wet moet hou wanneer dit by iets soos egskeiding kom. Wel, Ek sê nou vir julle: julle mag glad nie skei nie. Wanneer julle skei en met iemand anders trou, oortree julle die wet. En elkeen wat met iemand trou wat reeds geskei het, pleeg ook egbreuk.”

19. “Kom Ek vertel julle nog ’n storie. Eendag was daar ’n ryk man. Hy het baie duur klere gedra en elke dag soos ’n koning geleef.

20. Dan was daar ook ’n baie arm man. Sy naam was Lasarus. Hy het nie ’n sent op sy naam gehad nie. Later was hy so swak en uitgehonger dat hy heeltyd daar voor die ryk man se huis gelê het.

21. Arme Lasarus; hy het dikwels gedroom hoe hierdie ryk man vir hom die oorskietkos uit sy huis bring om te eet. Maar selfs dit was hom nie beskore nie. Sy enigste vriende was die rondloperhonde wat nou en dan die swere aan sy lyf kom lek het.

22. Kort voor lank is Lasarus dood. Maar toe het ’n koninklike ontvangs in die hemel hom te beurt geval. Die engele het hom kom haal en reguit na Abraham toe gedra.

23. “’n Ruk later is die ryk man ook dood. Maar daar was geen engel om hom hemel toe te dra nie. Nee, hy het sy oë in die doderyk oopgemaak. Dit was verskriklik. Pyn en lyding was sy voorland. So in sy lyding sien hy eendag vir Abraham daar ver aan die ander kant raak. En ook vir Lasarus wat by Abraham sit.

Lees volledige hoofstuk Lukas 16