Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 15:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Teen daardie tyd was dit mode vir die godsdienstige leiers van die Jode om na Jesus te kom luister en Hom dan te kritiseer oor alles wat Hy sê en doen.

2. Op ’n dag was hulle juis weer vies vir Hom omdat Hy saam met ’n klomp mense geëet het wat in hulle oë onrein was omdat hulle nie al die Joodse godsdienstige reëls en wette nagekom het nie.

3. Jesus sê toe vir hulle:

4. “Sê My, wat sal julle maak as julle 100 skape het en een raak weg? Sal julle nie die ander 99 net daar in die veld laat staan en daardie een gaan soek wat weg is nie?

5. Wanneer julle daardie skaap uiteindelik kry, sal julle so bly wees dat julle hom net daar op julle skouers sal tel en terugdra na die ander toe.

6. Later sal julle dan julle vriende en familie oornooi om saam met julle te kom feesvier oor die skaap wat teruggevind is. Julle sal vir hulle sê: ‘Wees bly saam met my, want ek het my skaap wat weg was weer gekry. Hy is nou veilig terug tussen al die ander skape.’

7. “Weet julle, in God se wêreld gaan dit net so. Daar is groot vreugde in die hemel as een sondaar na God toe terugkom. Ja, daar is groter blydskap oor een mens wat van die verkeerde pad af terugkom as oor al God se kinders wat elke dag doen wat Hy van hulle vra.”

8. “Nog ’n voorbeeld: ’n vrou wat net ’n klein bietjie geld op haar naam het en dit dan iewers in haar huis laat lê, sal dadelik daarna begin soek. Sy sal die huis van hoek tot kant fynkam.

9. As sy die geld uiteindelik kry, is sy verskriklik bly. Dan nooi sy al haar vriendinne oor om saam met haar fees te vier: ‘Kom wees saam met my bly, want ek het my geld gekry wat weggeraak het.’

10. “Net so is daar groot vreugde in die hemel wanneer een sondaar terugkom op die regte pad. Dan vier al die engele voor God se troon fees.”

11. Toe vertel Jesus nog ’n verhaal: “Eendag was daar ’n man met twee seuns.

12. Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê. Ek wil nie wag tot Pa eers dood is nie.’“Die pa het sy goed verdeel en vir elke seun sy erfporsie gegee.

13. ’n Paar dae later het die jongste seun sy goed gevat en padgegee. Hy het in ’n ander land gaan bly. Daar het hy sy erfporsie uitgemors. Hy het die een wilde partytjie na die ander gehou en gedoen net wat sy hart begeer.

Lees volledige hoofstuk Lukas 15