Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:26-41 Die Boodskap (DB)

26. Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee!

27. “Gaan kyk ook ’n slag na al die lelies wat buite in die veld groei. Hulle word nooit natgegooi of versorg nie. En tog groei hulle pragtig. Selfs nie eens koning Salomo met al sy rykdom en blink klere was so indrukwekkend soos een van hulle nie.

28. As God dan die veldgras so mooi versorg, wat nog vandag daar is en môre dood is, wat sal Hy nie alles vir julle doen nie, julle spul kleingelowiges?

29. “Ek sê weer: hou op om julle heeltyd te bekommer oor dinge soos kos en klere. En moenie so angstig wees oor alles nie. Dit is goed waaroor al die nasies van die wêreld wat nie in God glo nie hulle bekommer.

30. Maar julle het ’n Vader in die hemel. Hy is baie lief vir julle en Hy weet presies wat julle nodig het.

31. Al wat julle moet doen, is om heeltyd sy koninkryk eerste te stel. Leef dag en nag soos burgers van sy nuwe wêreld. En los die res vir Hom. Hy sal wel sorg dat julle alles kry wat julle elke dag nodig het.

32. “Hou op om so bang en benoud te wees, my klein ou groepie volgelinge. Julle Vader gee verskriklik baie vir julle om. Weet julle hoe bly dit Hom gemaak het om vir julle elkeen ’n plek in sy nuwe wêreld te gee? Daarom sal Hy elke dag vir julle sorg.

33. “Julle moet op ’n nuwe manier gaan leef. Verkoop julle besittings. Deel wat julle het met dié wat minder as julle het. Maak vir julle ’n bankrekening in die hemel oop. God self sal dit oppas. Geen dief kan daar by Hom inbreek nie. En niks word ooit oud daar nie.

34. “Onthou, die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.”

35. “Julle moet reg leef. Laat julle lig helder in hierdie donker wêreld skyn, want die Here kan enige oomblik terugkom.

36. Julle moet soos werkers in ’n belangrike man se huis wees wat die hele tyd wag dat hy van ’n bruilof af moet terugkeer. As hy laat in die aand aan die voordeur klop, maak hulle dadelik vir hom oop.

37. Daardie werkers is gelukkig dat hulle nie aan die slaap geraak het nie, want die werkgewer sal daar en dan vir hulle iets te ete gee. Hy sal selfs dat hulle in sy eetkamer gaan sit terwyl hy hulle bedien.

38. “Daardie werkgewer sal selfs nog blyer wees as hy eers in die middel van die nag by sy huis aankom en sy werkers staan steeds getrou daar by die voordeur vir hom en wag. Dan wag daar sommer ’n groot present op hulle.

39. “Nog ’n voorbeeld: As iemand hoor dat ’n dief beplan om drie-uur in die nag by hom te kom inbreek, sal hy mos gereed wees, nie waar nie? Hy sal die dief met niks laat wegkom nie.

40. Net so moet julle ook sorg dat julle reg is, want julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie. Al wat Ek vir julle kan sê, is dat dit op ’n tydstip sal wees dat julle dit die minste verwag.”

41. Petrus vra toe vir Jesus: “Met wie praat U nou eintlik? Net met ons dissipels, of ook met al die ander mense?”

Lees volledige hoofstuk Lukas 12