Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Intussen het duisende mense na Jesus toe gestroom. Tussen die gedrang deur sê Hy vir sy dissipels: “Julle moet lig loop vir die Fariseërs. Met hulle skewe leerstellings maak hulle almal heeltemal deurmekaar. Hulle is ’n klomp skynheiliges.

2. “Gelukkig kan mense se leuens nooit die waarheid in ’n bottel toeskroef nie.

3. Die een of ander tyd sal die waarheid uitkom. Onthou: wat julle ook al in die geheim sê, sal wel bekend word. Kort voor lank word julle diepste geheime sommer nog van die dakke af uitbasuin. Wees daarom baie versigtig wat julle sê.”

4. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens die bangste wees, vir mense of vir God? Kyk ’n bietjie: Mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar dis al.

5. God kan baie meer as dit doen: Hy kan jou in die doderyk gooi. En dit is regtig iets om voor bang te wees!

6. “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.

7. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.

8. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12