Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 2:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Ek wil hê julle moet weet hoe ek my vir julle inspan. Dit is of ek in ’n hewige geveg ter wille van julle en die Laodiseërs gewikkel is; selfs ook vir hulle wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie.

2. So wil ek hulle bemoedig. Hulle moet besef dat ons deur die drade van liefde aan mekaar vasgeweef is. Hulle het die geheim van God, naamlik Jesus, leer ken. Dit het hulle ryk laat voel. Skatte word in ’n skatkis gebêre. Om

3. die goddelike dinge te ken en te verstaan hoe dit werk, is vir Christene soos sulke waardevolle skatte. Dit is in Jesus opgesluit en kan net by Hom gekry word.

4. Ek beklemtoon dit sodat niemand julle op ’n verkeerde spoor kan lei met redenasies wat slim mag klink, maar eintlik van leuens deurtrek is nie.

5. Ek is dalk wel nie persoonlik daar by julle nie, maar in my gees is ek tog saam met julle. Ek praat dus nie sommer as ek sê dat ek baie bly is oor die ordelike en stylvolle manier waarop julle dinge doen nie. Ek is net so bly daaroor dat julle nie ’n duim toegee nie, maar rotsvas bly staan wanneer dit kom by wat julle oor Jesus glo.

6. Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.

7. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 2