hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 2 Die Boodskap (DB)

Julle is Jesus s’n; bly Syne

1. Ek wil hê julle moet weet hoe ek my vir julle inspan. Dit is of ek in ’n hewige geveg ter wille van julle en die Laodiseërs gewikkel is; selfs ook vir hulle wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie.

2. So wil ek hulle bemoedig. Hulle moet besef dat ons deur die drade van liefde aan mekaar vasgeweef is. Hulle het die geheim van God, naamlik Jesus, leer ken. Dit het hulle ryk laat voel. Skatte word in ’n skatkis gebêre. Om

3. die goddelike dinge te ken en te verstaan hoe dit werk, is vir Christene soos sulke waardevolle skatte. Dit is in Jesus opgesluit en kan net by Hom gekry word.

4. Ek beklemtoon dit sodat niemand julle op ’n verkeerde spoor kan lei met redenasies wat slim mag klink, maar eintlik van leuens deurtrek is nie.

5. Ek is dalk wel nie persoonlik daar by julle nie, maar in my gees is ek tog saam met julle. Ek praat dus nie sommer as ek sê dat ek baie bly is oor die ordelike en stylvolle manier waarop julle dinge doen nie. Ek is net so bly daaroor dat julle nie ’n duim toegee nie, maar rotsvas bly staan wanneer dit kom by wat julle oor Jesus glo.

Tree op soos mense wat die Here ken

6. Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.

7. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer.

8. Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie.

In Christus is God by ons

9. By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het.

10. Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte.

11. Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle sodat julle niks kortkom nie?

Christus neem ons

12. Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg.

Jesus gee ons ’n nuwe begin

13. Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan.Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie.

Ons leef saam met Jesus

14. Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal.

Christus het die

15. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien.

Onthou Christus en

16. Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie. En dan is daar die sabbat! Ai, hulle sal julle tot in die fynste besonderhede wil voorskryf hoe julle die sabbat moet vier.

17. Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar.

Moenie godsdiens speel nie

18. Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis.

19. Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie. Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet.

Leef met die regte

20. Ek wil julle ’n vraag vra. Julle sê dat toe julle Christene geword het, al hierdie vals en leë godsdienstige reëls hulle betekenis vir julle verloor het. Soos dit vir Christus niks beteken nie, so beteken dit ook vir julle niks meer nie. Waarom wil julle dan kort-kort maar weer kerk hou asof daardie godsdienstige gebruike die eintlike godsdiens is?

21. In die beeld van vroeër: Waarom wil julle aanhoudend die skaduwee in plaas van die persoon omhels? Julle raak vreeslik ernstig daaroor dat ’n Christen nie sekere dinge mag eet of aan ander dinge mag vat nie.

22. Dit lyk amper of julle dink God self is in hierdie aardse dinge vasgevang. Intussen het bloot gewone mense al die reëls en idees uitgedink en dit “godsdiens” genoem. Daardie kos wat kamma so heilig of onheilig is dat julle dit nie eens mag eet nie, lê môre vrot op die ashoop.

23. ’n Mens moet toegee, al hierdie godsdienstige dinge lyk op die oog af baie slim en indrukwekkend, al het mense dit uitgedink. Kyk net hoe nederig hou hulle hulle en hoe swaar kry hulle ter wille van dit waarin hulle glo. Tog maak dit nie van hulle beter mense nie. Hulle bly nog maar sondaars.