Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:49-64 Die Boodskap (DB)

49. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood.

50. Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil.

51. Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.”

52. Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?”

53. Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink.

54. Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors?

55. Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank.

56. Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom.

57. Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’.

58. Daarom kan Ek sê: hierdie brood wat uit die hemel gekom het, verskil heeltemal van die brood wat julle voorouers geëet het. Hulle almal is dood, maar wie van hierdie hemelse brood eet, sal so lank lewe as wat God daar is, en dit is vir ewig.”

59. Hierdie leersame gesprek het in Kapernaum plaasgevind waar die Jode bymekaargekom het.

60. Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se volgelinge onder mekaar gepraat: “Het julle dit gehoor? ’n Mens praat mos nie so nie! Wie kan daarna luister?”

61. Hulle kon hierdie gebrom nie vir Jesus wegsteek nie. Hy sê toe vir hulle: “Voel julle dit is te erg?

62. Hoe gaan julle voel as julle My sien teruggaan hemel toe waar Ek oorspronklik vandaan kom?

63. Dit moet so wees. Wanneer Ek teruggaan, kom gee die Gees vir mense die ewige lewe. ’n Mens kan dit tog nie doen nie. Ek is egter ’n uitsondering. Die Gees werk nou reeds deur my woorde en daarom kan julle die ewige lewe kry as julle luister na wat Ek vir julle sê.

64. Maar daar is ’n klomp van julle wat dit ongelukkig nie wil glo nie.” (Jesus het van die begin af geweet watter mense glo en watter nie. Hy het ook geweet dat Judas teen Hom sou draai.)

Lees volledige hoofstuk Johannes 6